Verhoudings wat giftig is
- Dr Lizelle
- Jul 16, 2020
- 2 min read
Toksiese Verhoudings – LIEWE HEKSIE en die GIFAPPELTJIE
Hoe weet jy wanneer ‘n verhouding ‘’giftig’’ is vir jou... Spesifiek in jou eie familie...
1. Geen respek vir jou grense nie
Selfs al probeer jy grense in plek stel –Gifappeltjie gaan dit heelwaarskynlik nie respekteer nie. Dit is positief dat jy besef grense is nodig, maar selfs Liewe Heksie se krag kan nie Gifappeltjie se gedrag beheer nie.
2. Jy raak angstig as jy naby Gifappeltjie is of selfs aan Gifappeltjie dink
Jy voel benoud, oorweldig, vasgedruk en sommer plein vinger-in-die-mond-dom. Daar is ‘n baie goeie kans dat ander mense alreeds vir jou gesê het hoe jy die Gifappeltjie moet wegtoor – hoe jy die situasie moet hanteer – hoe jy doodeenvoudig jou voet moet neersit. En natuurlik kan jy nie … en natuurlik bou dit angs en spanning.
3. Besoeke en gesprekke steel jou energie
Net soos Liewe Heksie wat voor Koning Rosedoring moet staan, gebruik dit geweldig baie energie om op die eiers te loop rondom Gifappeltjie. Jy is heeltyd bewus van die implikasie van elke sin en elke woord. Na ‘n gesprek of ‘n besoek voel jy soos iets wat afgeblaas het… niks lewensenergie oor nie!
4. Die bydrae wat Gifappeltjie tot jou lewe lewer
Watter bydrae? Gifappeltjie weet hoe om te vat, te vra, te steel. Gifappeltjie weet ook hoe om jou te dreig met die Pers Heks. Gifappeltjie weet nie hoe om om te gee, empatie te toon, ondersteunend of versorgend te wees nie.
5. Gifappeltjie los letsels in jou lewe
Jy kan die seerkry oomblikke in jou lewe onthou as gevolg van die sigbare skade in jou lewe. Goed wat jy gehad het, wat jy nie meer het nie: eiendom, finansies, selfbeeld, selfhandhawing, energie, tyd, vriende… en natuurlik dink jy nostalgies terug aan moontlike tye toe jy nie skuldig gevoel het nie. So asof JOU optrede die letsels op jou gelaat het. Gifappeltjie kom skotvry daarmee weg!
As jy ‘n Gifappeltjie(s) in jou lewe kan identifiseer, neem die besluit om jouself eerste te stel en beheer terug te eis oor jou lewe!
Kontak Brenda vandag vir jou eerste 90 min afspraak by Dr Lizelle.
Sien jou binnekort!










Comments