top of page

Emosionele emmertjie

  • lizelle949
  • Nov 23, 2020
  • 2 min read

Emosionele Emmertjies


Hoe gaan dit met jou emosionele emmertjie? Is sy vol? Het jy ‘n bron wat haar kan aanhou vul? Het jou emosionele emmertjie dalk ‘n gat of 2 in?

Goed, ek verstaan. Jy het geen idee waarvan ek praat nie. Kom ons begin voor. Vir die mens om ‘n gelukkige en vervulde wese te wees, het ons nodig dat ons hart moet vol wees van goeie dinge, voorspoed, liefde, respek, vertroue... ons hart is dus ‘n emosionele emmer…

Gate in ons emmer is fataal… gate word veroorsaak deur leuens, harde woorde, ongeduld, kritiek, manipulasie, intimidasie en helaas… ‘n gebrek aan tyd.

Emmers wat lek, beteken dat daar negatiewe gevoelens of omstandighede is wat daartoe lei dat dit wat ingesit word, sommer dwarsdeur loop. So kan ons dalk gereeld in situasies en verhoudings wees wat veronderstel is om ons emosionele vrede te bring, maar ongeag hoe baie ingesit word, ons emosionele emmertjies bly leeg.

Hier is die 3 stap plan om ons emosionele emmertjies te bestuur.

1. Verseël die gate – kyk ernstig na jouself en bepaal wat JY nodig het. Onthou, alles begin by jousélf! Watter omstandighede ‘’breek’’ jou? Wie maak jou aanhoudend ‘’seer’’, selfs al beweer hulle dat hulle dit nie só bedoel nie? Verwyder hierdie risiko elemente uit jou omgewing. Dis net jy wat jou gate kan verseël. Dit herinner my aan die keer toe ons buurt nie water gehad het nie en ons water moes gaan tap by ‘n watertrok… my groot 25 liter kan was die perfekte oplossing. Ek het dit onder die trok se pyp gesit, die trok se pyp oopgedraai en in afwagting gekyk hoe die water …NIE inloop NIE….

Daar was 2 probleme: eerstens was die trok se uittappyp groter as die gat van my 25 l kan, so die helfte van die kosbare water het op die teerpad uitgeloop…. Tweedens was ek totaal onbewus daarvan dat die 25 l kan se kraantjie oop was! Die gevolg was dat liters water uit die watertrok gevloei het, maar net mooi niks vir my beteken het nie! Ek moes herbeplan en herposisioneer…

2. Kry ‘n bron wat jou emmer kan volmaak en kan vol hou – sluit positiewe denkers in jou omgewing in. Belê in jouself. Omring jou met mense wat jou goed laat voel. Dit is daardie mense met wie jy net nog ‘n bietjie langer wil kuier. Dit is die emosionele emmer mense… die hartsmense. Kry ondersteuning of terapie. Bepaal en besluit wat jy nodig het, en gaan vir goud! Dit is jou plig om emosioneel ‘’connected’’ te voel!

3. Neem ook self-verantwoordelikheid om jou eie emmertjie vol te maak. Leer om ‘’nee’’ te sê, gooi die skuldgevoelens by die venster uit en maak jou hart oop vir gesonde en verrykende emmer-vullers. MAAK tyd vir die stokperdjies en tydverdrywe waarvan jy hou. Kleur daardie prentjie in, lees die boek, trap die fiets, slaan die treadmill af, plant ‘n roosboom… Skep vir jouself geleenthede om daardie gevoel van sukses en bemeestering te kry. Beleef hoe jou emosionele emmertjie vol word!


Doen wat jy kan, daar waar jy is, met dit wat jy het!

 
 
 

Comments


Featured Posts
Check back soon
Once posts are published, you’ll see them here.
Recent Posts
Archive
Search By Tags
Follow Us
  • Facebook Basic Square
  • Twitter Basic Square
  • Google+ Basic Square

© 2023 Proudly created with Wix.com

bottom of page